Ons paneel het interessante vrae van ’n dame ontvang wat, as trustee, vir meer as 30 jaar die tuin in haar woonstelkompleks se gemeenskaplike tuin in stand gehou het.
Die leser het sonder vergoeding na die tuin omgesien en selfs plante op eie onkonste aangeplant. Weens gesondheidsredes is sy nou nie meer in staat om na die hele tuin om te sien nie en het sy as trustee bedank.
Die voorsitter is glo nou besig om goedsmoeds plante uit die tuin te verwyder en sy wil weet of sy enige regte in dié verband het. Die leser wil ook weet of sy steeds vir haar eie plesier na ’n klein gedeelte van die tuin mag omsien.
Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs op Stellenbosch sê een van die take van die regspersoon, kragtens artikel 37 van die Deeltitelwet Nr 95 van 1986, is om die gemeenskaplike eiendom te onderhou. “Die instandhouding van die tuin en plante is ’n tipiese voorbeeld.”
Geldenhuys sê die gemeenskaplike eiendom – wat bestaan uit die gebou en erf, maar nie die binnekant van die dele nie – word deur alle eenheidseienaars gesamentlik besit in onverdeelde aandele proporsioneel tot die deelnemingskwotas van hul onderskeie eenhede.
“Daar mag slegs met die gemeenskaplike eiendom gehandel word op die wyse waarop die eienaars saam besluit. Afhangende van wat daar met die eiendom beoog word, sal ’n eenparige of spesiale besluit vereis word.”
Soos in die leser se geval, kan dit gebeur dat een van die eienaars aanbied om die onderhoud van die tuin met of sonder vergoeding te behartig, sê Geldenhuys. “Die eienaars kan dan saam besluit of hulle die taak aan dié persoon wil toevertrou, en of hulle verkies om eerder van ’n tuindiens gebruik te gebruik.”
Schalk van der Merwe van Rawson Properties Helderberg sê indien hulle sou besluit om die taak aan die eenheidseienaar toe te vertrou en indien daar vergoeding is, sal dit as deel van die begroting by die algemene jaarvergadering deur die eienaars goedgekeur moet word.
“Die tyd en koste van die tuinmakery kan egter ook as ’n skenking deur die betrokke eienaar hanteer word, soos in die leser se geval.”
Van der Merwe sê dit sal nie toelaatbaar wees vir die voorsitter om op sy eie inisiatief, en sonder om minstens met die ander trustees te praat, die tuin van die skema te verander nie.
“As die veranderinge as normale instandhouding gesien word, mag die trustees ’n besluit daaroor neem. Uit die inligting wat die leser verskaf, blyk dit egter dat die veranderinge redelik groot is en dat dit die voorkoms van die skema mag verander.”
As veranderinge aan die tuin en die onderhoud daarvan ’n koste beloop, sal dit tien teen een as ’n luukse verbetering beskou word wat slegs met die toestemming van die eienaars gedoen mag word, volgens Van der Merwe.
“Selfs al het die voorsitter die nodige toestemming verkry, kan die leser nogtans oorweeg om die eienaars te vra om steeds ’n klein deel van die tuin te versorg.”
Stuur jou eiendomsverwante vrae na coetzee[at]fullstopcom.com.
[ad#Google Adsense 234×60]