Vandeesweek se leser woon in ’n woonstel in ’n sekuriteitskompleks en wil graag ’n tweede kat aanskaf, maar is bekommerd dat haar aansoek geweier gaan word.
Sy huur reeds 10 jaar ’n eenheid en is onlangs deur haar veearts aangeraai om ’n maatjie vir haar huidige kat – wat tekens van eensaamheid en depressie toon – te kry.
Die leser het skriftelike toestemming van beide die eienaar en die trustees om haar huidige kat aan te hou, maar is mondelings afgeraai om nie vir ’n tweede een aansoek te doen nie, aangesien dit afgekeur sal word.
Sy wil weet of die trustees die reg het om haar aansoek goedsmoeds te weier indien sy, soos altyd, voorneem om by die reëls van die kompleks te bly.

Lucille Geldenhuys
Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs op Stellenbosch sê, kragtens artikel 35(1) van die Deeltitelwet Nr 95 van 1986, word elke deeltitelskema by wyse van reëls bestuur en beheer.
“Ontwikkelaars en die eienaars van deeltiteleiendom word toegelaat deur die wet om die standaardreëls met nuwes te vervang. Dis dus nodig om te kyk wat die betrokke skema se reëls bepaal alvorens daar met sekerheid vasgestel kan word wat die vereistes aangaande ’n spesifieke kwessie is.”
Geldenhuys sê die standaard-gedragsreëls bepaal dat ’n eienaar of inwoner slegs troeteldiere, reptiele en voëls met die skriftelike toestemming van die trustees mag aanhou.
“Die trustees mag voorwaardes koppel aan hul toestemming, byvoorbeeld dat die dier nie op gemeenskaplike eiendom mag ronddwaal nie. Hulle mag die toestemming terugtrek indien die aansoeker die voorwaardes verbreek.”
Die hoë hof het al ’n beslissing rondom die interpretasie van hierdie standaard-gedragsreël gemaak, sê Geldenhuys.
“In die relevante saak is daar beslis daar is ’n plig op die trustees om elke aansoek op eie meriete te oorweeg, en dat hul besluit gebaseer moet word op die feite en omstandighede wat van toepassing is.”

Schalk van der Merwe
In die leser se geval, sê Schalk van der Merwe van Rawson Properties Helderberg, is dit nodig dat sy deur die proses vir die verkryging van toestemming vir ’n tweede kat moet gaan, soos in die gedragsreëls uiteengesit.
“Sy moet haar versoek op skrif sit, gemotiveer deur haar redes en die wyse waarop sy beoog om haar katte te beheer, ongeag dat daar aan haar genoem is dat sy nie eers die moeite hoef te doen nie.”
Van der Merwe sê as haar aansoek wel geweier sou word, kan die leser die trustees versoek om hul redes te verskaf.
“Dit mag blyk dat, nieteenstaande die leser se goeie rekord, daar wel grondige redes vir die weiering is. Daar mag byvoorbeeld ’n beperking wees op die hoeveelheid of grootte van die troeteldiere wat elke inwoner mag aanhou.
“Indien dit sou blyk dat die trustees die feite oorweeg het en hul besluit op regverdigbare redes gebaseer het, sal die leser hul besluit moet aanvaar.”
Van der Merwe sê indien die trustees nie hul besluit met redelike redes kan motiveer nie, hul redes arbitrêr is of as hulle bloot net weier ten einde nie ’n presedent te skep nie, kan die leser die hof nader vir ’n verklarende bevel dat toestemming onredelik geweier is en dat sy toegelaat moet word om ’n tweede kat aan te hou.


Recent Comments